KSM het in 2020 begin om boere en hul gemeenskappe in die droogte-geteisterde dele van ons land, spesifiek Adelaide en Bedford in die Oos-Kaap, en Kenhardt, Loxton en Van Zylsrus in die Noord-Kaap, te help. Ons mikpunt in geloof was om tydens 2020 R1 miljoen hiervoor by te dra, en sover, met die oop hande van ons gemeentelede en sakeondernemings, kon ons reeds R450 000 skenk.
KSM is volhoubaar en langtermyn betrokke by 28 gemeenskapsprojekte waarin ons maandeliks gesonde en gebalanseerde droë rantsoen maaltye verskaf aan kinders, tieners, seniors en ander kwesbares. In 2020 alleen het KSM meer as 300 000 borde kos voorsien. Dit sluit ook die addisionele voorsiening weens Covid in.
KSM is bekend daarvoor om in te spring en te help waar daar nood is. Of dit nou droogteverligting, hongersnood of selfs vloede in ons buurlande is – ons steek hande uit na dié wat dit die nodighste het. Met die Covid-pandemie kon KSM ook die voorste linie gesondheidswerkers bystaan. Dit is gedoen deur die mobilisering van ons selgroepe wat gehelp het met gebed, koffie en warm maaltye.